Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG - 13 JULIE 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutels van twee amateurs onlangs stil geraak het. Hulle is:

Peter Carey, ZS6JT, in die oggend van 11 Julie, na ‘n lang siekbed. Peter was ‘n groot eksperimenteerder, tegnikus, operateur en wenner van talle toekennings. As ZE5JJ, in die toenmalige Salisbury, was hy die eerste amateur in Afrika wat per AMA kontak gemaak het. Hy het dit in 1974 op 432 MHz gedoen.

Kobus Olivier, ZS6SIX, het op 1 Julie SS geword.

Aan die langslewende familie en vriende van hulle bied ons ons innige meegevoel.

(POUSE)

In die nuus vandag:

PRESIDENTSNET FOKUS OP SARL-HFKOMPETISIES

TRUST STEL ’N STUDIETOEKENNING VIR JONG RADIOAMATEURS IN

ELMERKOPPELING NOU TEN VOLLE AKTIEF

JAARLIKSE LEDEGELDE VIR DIE SARL IS NOU BETAALBAAR.

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

PRESIDENTSNET FOKUS OP SARL-HF-KOMPETISIES

Sluit op 20 Julie 2008, volgende Sondagaand, by die President van die SARL, Rassie Erasmus, ZS1YT, aan vir die Presidentsnet. Benewens sy verslag oor die afgelope 6 weke se gebeure sal Dennis Green, ZS4BS, by hom aansluit om die HF-kompetisies wat op 3 en 31 Augustus plaasvind, te bespreek.

Klubs word uitgenooi om hul herhalers aan die telekonferensienetwerk te koppel en ’n interaktiewe skakel daar te stel om amateurs in hul ontvangsgebied toe te laat om aan die besprekings deel te neem. Die Presidentsnet begin om 19:30.

Om ’n telekonferensieskakel te bespreek stuur ’n e-posversoek aan armi@sarl.org.za teen 15 Julie 2008 met besonderhede van die Telkomlandlyn wat gekoppel moet word vir die konferensie. Die President se Net sal ook op 3 782 kHz deur Marten du Preez, ZS6ZY, uitgesaai word en gestroom word deur Chris, ZS6FCS, op die internet en echolink. Besoek www.sarl.org.za vir nadere besonderhede.

TRUST STEL ’N STUDIETOEKENNING VIR JONG RADIOAMATEURS IN

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrustfonds stel ’n jaarlikse studietoekenning in vir jong, gelisensieerde radioamateurs wat by ’n Universiteit of Universiteit van Tegnologie wil inskryf om vir elektronika en kommunikasie te studeer. Die studietoekenning sal R15 000 bydra tot die eerste jaar van studie. Die doel van die studietoekenninhg is om jong radioamateurs aan te moedig om ’n loopbaan in elektronika en kommunikasie te betree.

Die meeste jongmense vind dit moeilik om genoeg fondse te bekom om ’n universiteit of universiteit van tegnologie vir die eerste keer te betree. Wanneer die eerste jaar egter suksesvol voltooi is, gaan daar meer geleenthede oop om ’n beurs of studielening te bekom.

Die Trust nooi radioamateurs en maatskappye uit om bydraes te maak aan die studiefonds. Die Trust het begin deur R7 500 van sy eie fondse by te dra met die hoop dat ’n verdere R7 500 bygedra sal word om die eerste beurs vir die akademiese jaar 2009 toe te ken. Die mikpunt is om nog fondse bymekaar te maak sodat meer as een toekenning elke jaar gemaak kan word.

Donateurs aan die fonds sal op die webblad van die Trust-studietoekenningswebblad, www.amateurradio.org.za, erken word. Donateurs van R15 000 sal ’n studietoekenning na hulle of hul maatskappy vernoem kry.

Bydraes aan die studietoekenningsfonds kan gemaak word deur ’n direkte inbetaling aan die Suid-Afrikaanse Amateurradiotrustfondsrekening by ABSA, Menlyntak, Rekeningnommer 560 142 722, te maak. Merk asseblief die deposito “Studietoekenning” en stuur ’n e-pos aan saardt@intekom.co.za.

ELMERKOPPELING NOU TEN VOLLE AKTIEF

Die SARL-Elmer-koppeling is nou ten volle aktief. Indien jy ’n tegniese vraag het oor amateurradio of raad benodig oor deelname aan ’n kompetisie, ’n RFI-probleem het of inligting benodig oor ’n antenna, stuur ’n e-pos aan elmer@sarl.org.za. SARL Elmer, Fred Scheepers, ZS1FCS, sal ’n kundige antwoord soek vir jou vraag. Jy sal die woord Elmer in baie min woordeboeke vind. Dit is ’n tipiese amateurradioterm wat mentor beteken, ’n persoon wat nuwelinge bystaan tot amateurradio. Of jy ’n nuweling of ’n ou hand is, jou vrae is welkom.

JAARLIKSE LEDEGELDE VIR DIE SARL IS NOU BETAALBAAR.

Fakture vir SARL-lidmaatskapfooie is aan alle lede gepos. Ledegelde is nou betaalbaar. Op die faktuur is daar twee bedrae. Die eerste bedrag is ’n kortingsbedrag van R305 indien dit voor 31 Augustus 2008 betaal word. Die tweede bedrag is die volle ledegeld vir die jaar 2008/2009. Die ledegeld vir seniorlede is insgelyks R184, indien voor 31 Augustus 2008 betaal, en R200 indien na die datum betaal. Wanneer ‘n elektroniese betaling gemaak word, sluit jou roepsein in en gebruik die adviesopsie om ’n e-pos aan admin@sarl.org.za te stuur. Indien jy by die bank betaal, sluit asseblief jou roepsein op die inbetaalstrokie in en faks dit aan 088 011 675 2793. Alle lede ontvang ’n jaarlikse lidmaatskapsertifikaat.

RAE-BEURSE

Daar is twee beurse beskikbaar vir leerders en studente onder die ouderdom van 25 jaar wat graag vir die Oktober klas A Radioamateureksamen wil inskryf. Die Ichten Valley-radioklub se YARP-beurs dek die eksamengeld en een jaar se juniorlidmaatskap van die SARL met suksesvolle aflegging van die eksamen asook R150 vir die opleidingsfooi wat gehef word deur plaaslike klubs wat RAE-klasse aanbied. Aansoeke vir die twee beurse sluit op 15 Augustus 2008.

Vir leerders en studente wat die Klas B-(ZU) eksamen aflê is daar twee beurse wat die eksamengeld dek. Besoek www.amateurradio.org.za vir nadere besonderhede en aansoekvorms.

KOMPETISIENUUS

Boland ARK 40-meter-kompetisie. Die jaarlikse Boland ARK 40-m-foonkompetisie sal op Sondag 27 Julie vanaf 15:00 tot 18:00 SAT op die lug wees. 'n Roepsein, RS-verslag en poskode word uitgeruil.

Letsplay Radio borg 'n Yaesu VX3-handstel aan 'n gelukkige deelnemer aan die BARK 40-m-kompetisie. Alle logstate met 20 of meer kontakte kom in aanmerking vir die gelukstrekking.

Die volgende kompetisie-uitslae is bekend gemaak:

2de BHF/UHF-NAELLOOP [1 Junie]:

Marius Preston, ZS4MP, 72 punte;

SARL JEUGDAG-NAELLOOP [16 Junie]:

Sestien logs is vir hierdie kompetisie ontvang – nege van die logs is afkomstig van nie-radioamateurs!

1ste JP Meijers, ZS1PJM - 52 punte [19 jaar oud];
2de Byron Engler, ZR5KH - 39 punte [14 jaar oud];
3de Francois Herbst, ZS6MHH - 37 punte [23 jaar oud].

SARL QSO- TOP BAND GESELLIGHEID [18 tot 23 Junie]:

1ste Gary Immelman, ZS6YI, - 266 punte;
2de Jacques Vermeulen, ZS1WC, - 228 punte;
3de Jan Botha, ZS4JAN, - 165 punte

Kontrolelogs is ontvang vanaf Vidi la Grange, ZS1EL en Eddie Leighton, ZS6BNE

Die volledige uitslae is gepubliseer in HF Happenings 310. 'n Kopie kan bekom word by hfcontests@netactive.co.za

KLUBNUUS

WINTERVLOOIMARK IN PRETORIA

Die Pretoria Amateurradioklub hou op Saterdag 26 Julie 2008'n wintervlooimark . Die vlooimark sal soos gewoonlik op die Suid-Kampus van die Universiteit van Pretoria, op die hoek van Universiteit- en Lynnwoodweg, gehou word en die aanvangstyd is 08:30.

Almal, klublede en persone wat nie aan klubs behoort nie, is welkom. Kom besoek gerus die vlooimark in Pretoria. Skakel Almero, ZS6LDP, by 012 567 3722 (tuis) of 082 908 3359, indien u 'n tafel wil bespreek of meer besonderhede benodig.

WAT IS VERKEERD MET DIE SON? NIKS!

Die son gedra hom normaal. So sê NASA se sonfisikus, David Hathaway. “Daar was onlangs rapporte dat die sonvlekminimum langer duur as wat dit behoort. Dit is nie waar nie. Die voortslepende kalmte is sonvlekgetal is goed binne die historiese norms vir die sonsiklus”.

Hierdie verslag, dat daar niks is om te rapporteer nie, is nuuswaardig omrede ‘n toenemende fluistering in leke en akademiese kringe dat iets met die son verkeerd is. Die Son Neem Langer As Normaal Sonder Om Sonvlekke Te Produseer is selfs in ‘n onlangse persverklaring kwytgeraak. ‘n Noukeurige beskouiing van die data bevestig dit egter nie.

Die son is nou naby die laagtepunt, genoem sonvlekminimum, van sy elfjaarsiklus. Dit is die stil periode wat een sonvlekmaksimum van die ander skei. Alhoewel minima ‘n normale aspek van sonvleksiklusse is, bevraagteken perty die lengte van die voortgaande minimum wat nou deur sy derde jaar voortsleep. Dit lyk asof dit vir ‘n lang tyd voortduur. Lees die volledige storie op www.sarl.org.za.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen aktief wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik noordwestelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike flou 20-m-openinge vanaf 15:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlike 80-m-opening na Nieu-Seeland om 22:00. Andersins gaan kontakte met Australië en Nieu-Seeland baie uitdagend wees. Vanaf ongeveer 17:00 is daar moontlike 20-m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees.

10 MHz lyk laatmiddag en na sonsonder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende die oggende en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer.

Saans is 80 m die beste keuse,veral noudat die meeste donderstorms en statiese toestande agter die rug is. 160 m gaan ook baie bruikbaar wees. Dit is nou die ideale tyd om 'n plan vir 'n 160-m-antenna te maak as jy nie reeds een op het nie en die opwinding en nukke van topband wil beleef.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou nog altyd kan verras. Skakel jou stel aan,luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

16 Julie – ZS6STN begin RAE-klasse;
20 Julie – Presidentsnet;
26 Julie – Pretoria-vlooimark;
27 Julie – Boland ARK 40 m-kompetisie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, voorsien nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT uitgesaai word op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Gustav, ZS6BWN saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003